| Die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom ( Modimolle ) het in 1959 sy ontstaan gehad en vier in 2009 sy 50ste bestaansjaar. Kinders word in die kinderhuis geplaas deur middel van ’n hofbevel as gevolg van kindermishandeling, drankmisbruik, dwelmmisbruik, gesinsgeweld, verlies aan ouers en ander faktore wat die lewe van die kind mag bedreig. Kinders in die Abraham Kriel Kinderhuis word goed versorg. Hulle woon in vyftien huise, tussen tien tot veertien kinders per huis. Elke huis het ’n kinderversorger wat omsien dat die kinders netjies geklee is, genoeg voedsel kry, warm slaap en die nodigste geriewe het sodat hulle gemaklik kan lewe. Ook ontvang hulle maandeliks sakgeld en word ook voorsien van toiletware. ’n Haarkapper besoek gereeld die Kinderhuis sodat die kinders se hare netjies versorg kan word. Alhoewel fondse baie beperk is, word daar steeds gepoog om die kinders menswaardig en gelukkig te hou. Basies behoeftes geniet prioriteit. Kinders besoek gereeld die Klerekruik waar hulle klere kan kies – gewoonlik tweedehandse klere. Skoolklere, onderklere en skoene moet dikwels nuut aangekoop word. Skenkings in die vorm van voedsel, klerasie, toiletware, skoonmaakmiddels ens. help baie. Kinders wat die Kinderhuis verlaat nadat skoolopleiding voltooi is, word gehelp om werk en behuising te bekom voordat hulle die Kinderhuis verlaat. Kinders wat gemotiveerd is en oor die vermoë beskik, word gehelp om tersiêre onderrig te ontvang. Dit plaas ’n finansiële las op die Kinderhuis, maar dit word beskou as ’n deel van hul verantwoordelikheid om aan die kinders ’n optimale geleentheid te bied om tot die volwasse lewe toe te tree. Daar word ongeveer 180 kinders vanaf die ouderdom 3 tot ongeveer 20 jaar gehuisves. Alhoewel dit nie ‘n staatsinstansie is nie, ontvang hulle ‘n klein subsidie per kind van die staat. Daar word egter swaar geleun op die insameling van fondse deur projekte wat geloods word. |