Die Magrietjies bestaan uit 'n groep vrywilligers en het in 1994 tot stand gekom onder leiding van Mev. Tonny Oerlemans, 'n oud-verpleegster. Die hoofrede vir die ontstaan van die groep het voortgespruit uit die nood van terminale pasiënte wat deur hospitale ontslaan en huistoe gestuur is terwyl daar in Naboomspruit geen hospitaal of kliniek bestaan het nie. Sulke pasiënte se versorging moes dan oorgeneem word deur familielede en simpatieke bure wat dikwels min of geen verpleegkennis besit het nie. Die Magrietjies het aanvanklik onder die beskerming van die Kankervereniging van Suid Afrika (Kansa) diens aan die kankerpasiënte gelewer. Dit het egter mettertyd duidelik geword dat Kansa se beleid onder die nuwe politieke bedeling in Suid Afrilka verander het van die primere doel: tuisversorging na eerder navorsing om kanker te voorkom. In April 2000 het die Magrietjies besluit om die band met Kansa te verbreek en het toe onder beskerming van die Naboomspruit Welsynsorganisasie vir Bejaardes (NWOB) hulle diens voortgesit. Geregistreerde verpleegpersoneel in samewerking met onkoloë en plaaslike geneeshere versorg pasiente van aIle rasse op hulle eie versoek. Die Magrietjies het hulle eie bankrekening (onafhanklik van NWOB) en bekom fondse d.m.v. straatverkope, musiekaande en deur blikkies vir kleingeld by ondememings te plaas. Vrywillige donasies van die Naboomspruitse gemeenskap word ook gereeld ontvang. Onder geen omstandighede word daar van deur tot deur gekollekteer of telefonies om geldelike bydraes gevra nie. 'n Professionele boekhoustelsel met bewys van inkomste en uitgawes word bygehou en verslag word maandeliks voorgelê aan die Magrietjie vergadering. Die finansiële state word jaarliks deur 'n ouditeur nagegaan en gesertifiseer. Kantoorruimte word gratis deur die Mookgophong Munisipaliteit voorsien en hulle dra ook gereeld by om geldelike verpligtinge na te kom. Magrieijie verpleegkundiges reik uit na alle kankerpasiënte in Naboomspruit en distrik, ongeag velkleur. Magrietjie vrywilligers be-ywer hulle ook om: - pasiente en hulle versorgers psigies en emosioneel te onderskraag. -tydens afsterwe van pasiente, naasbestaandes met deernis te ondersteun en raad te gee i.v.m. begrafnisreëlings en testamente. - gereelde beradingsessies vir naasbestaandes met predikante te reël. -jaarlikse uitstappies vir pasiënte en naasbestaandes te organiseer. -mediese toerusting, hulpmiddels en suurstof aan pasiënte te voorsien en te verhuur aan nie-pasiënte. |