Die geskiedenis van Naboom Tuiste vir Bejaardes dateer terug na 1982, toe 'n behoefte vir welsynswerk onder bejaardes in Naboomspruit geïdentifiseer is en die Naboomspruit Welsynsorganisasie vir Bejaardes ( NWOB ) deur die munisipaliteit gestig is met die doelstelling om onder andere die oprigting van 'n tehuis te behartig. Alle diensorganisasies en kerke in Naboomspruit is stigterslede van die organisasie. Departementele rompslomp en die onvermoë om die nodig fondse te bekom, vertraag egter die oprigting totdat staatshulp teen 1990 bekom is.  

In die jare negentig besluit die onderskeie kerkgenootskappe in Naboomspruit om beheer van hierdie aksie oor te neem. Elke kerkgenootskap maak ‘n finansiële bydrae, koop die eiendom by die plaaslike owerheid en tree die NWOB daarna op as die oorkoepelende liggaam vir die Naboom Tuiste vir Bejaardes en Lewensvreug Dienssentrum.

Die Naboom Tuiste vir Bejaardes Iê hom toe op die versorging van inwonende bejaardes. Naboom Tuiste vir Bejaardes bied tans inwonende versorging aan 80 bejaarde persone, waarvan 3 bedlêend en 34 in rolstoele is. Dit behels volle losies, verpleging, mediese versorging en verskaffing van medikasie sowel as geestelike versorging en ontspanning in. Hierdie taak word verrig deur 'n lojale span personeel onder leiding van 'n matrone en bestaan uit 26 verpleegkundiges en assistente, 16 kombuis- en huishoudingpersoneel, 3 persone vir terrein en ander instandhouding en 'n administratiewe korps van 2 persone. 

Die Tuiste beskik oor 'n versorgingseenheid waar ernstig siek persone versorg en gestabiliseer word voor oorplasing na hospitale of ander inrigtings. Hierdie fasiliteit is teen 'n bekostigbare fooi beskikbaar aan buite pasiënte en voorsien in 'n groot behoefte van die gemeenskap. Bestuur, instandhouding en administrasie van die hele behuisingskompleks, wat ook 46 subekonomiese woonstelle sowel as 20 luukser selfsorgeenhede waarin 'n woonreg bekom is, insluit word deur die Tuiste behartig.

Naboom Tuiste vir Bejaardes is aangewese op die onbaatsugtige Iiefdesdiens van plaaslike leraars, mediese dokters en vrywilligers uit die gemeenskap om na die geestelike en maatskaplike behoeftes van die inwoners om te sien, wat dan ook met groot onderskeiding geskied. Aktiwiteite word gefinansier deur ‘n beperkte staatssubsidie, betaling van losies deur inwoners met bystand deur kinders en familie waar nodig, die aanbied van twee môremarkte en ‘n jaarlikse basaar deur die gemeenskap en donasies in kontant, natura of toerusting deur goedgesinde skenkers.