|
Die Bokke is die beste! Só sing Wicus van der Merwe op sy spinternuwe trefferalbum, Annatjie my 4X4. En wie kan stry? Kyk net na die scoreboard! Met die reuse-rugbytreffer Bokke is die beste, die jolige danstreffers Annatjie my 4X4 en Die paartie raak toe rof en die uitbundige plekliedjie, Clanwilliam, is hier ‘n album wat gewis ‘n goue glans het! Soos op sy gewilde debuutalbum, Hie’ Komme Ding, sing hy weer oor girls – soos sy getroue 4X4-ryding, Annatjie, (Don Kelly & Marc Brendon), Marietjie, Mary en met nostalgiese wiegeliedbekoring oor ‘n Boerenooientjie (Stef Kruger). Hy sing ook oor gunstelingplekke, óns mense, die Bokke en ander lékker, trotse dinge! Wicus het self dié keer die pen gegryp en onder meer meegewerk aan die albumtreffer Die paartie raak toe rof (saam met Don Kelly & Marc Brendon). Daar is weer ‘n skeut gesonde humor en, dié keer, selfs ‘n stouter rockdrukding: Stryder in die stofpad. Dis Afrikaanse rock met ‘n reuk! Wicus blaas woema in gunstelinge soos Boude (Anton Goosen) en Hartebeespoortdam (Buddy Vaughn) en sit die vreugde van somer, son en Saterdagmiddagpret in Holla hiepie hey. Tussen die ander vreugdegoete wat die dansvloere gaan duik, is die gewilde Pieter van der Westhuizen-juweel Bokkie sê my reg, die vermakerige “optel”-song Wat kla jy? (Fredi Nest), en die nuutskepping Ek en jy (‘n liedjie deur Don Kelly & Rudolph Bergh), waarin Emma en haar grêndma noutyds betrek word). Dié grapjas wys ook sy vaardigheid as sanger op die snitte, Marietjie (‘n ritmies-swewende liefdeswalsie deur Leon Beukes en Tolla van der Merwe), Cliff Richard se poprock-gesoomde Lucky lips en Frank Sinatra se tydlose treffer My way: stewige stemwerk. Wicus doen dinge op sy manier: onopgesmuk! Rig albumnavrae aan Wendy van Niekerk van Select-Musiek by (011) 792-0145/6/7 vir nog inligting. |