DJ OSSEWA, die dinamiese en eiesoortige vermaaklikheidsgroep, se wa hardloop deesdae op vier goed ge-oliede wiele, naamlik Daniel Jakobus (DJ), Piet Pompies, Jerbes die Leeuboer en Raapie Knapie.  (Marula Boom het sy takke gesprei om te gaan walkabout.) Hierdie knap manne het hulself reeds deur-en-deur bewys as een van die groot suksesstories van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. 

                                               http://www.naboomwindpompfees.com/edit%2013%20klein.jpg

Wanneer ‘n groep ‘n vyfde CD in net minder as vier jaar bekendstel as gevolg van oorweldigende aanvraag is dit BAIE duidelik: Hulle is stewig gevestig in die mark en daar kan geen twyfel meer bestaan oor hulle super gewildheid nie.

 

 http://www.naboomwindpompfees.com/edit8.jpg

Hulle nuutste CD, INNIE LANG GRAS is weereens suiwer ossewa-plesierigheid en hulle verstewig hulle reputasie deur styl-getrou sterker, beter en met ‘n volledige vermaaklikheidspakket die mark te domineer. Elkeen van die super-16 loslit-lekker energieke snitte sal ‘n magtige dreuning veroorsaak soos aanhangers die dansvloer binneval of skaterlag vir hulle unieke en skreeusnaakse lirieke en maltrap streke.

Liedjies soos Innie lang gras, Daisy meisie en Vannie os op die Jas tokkel die hartsnare met regte, egte plaasliefde, ryk en lekker soos botter uit die karring terwyl Lettie, Olke Bolke, Hond innie bos en Daai Bees die lagspiere kielie. Die treffende ysbreker, Roei die boodjie, sal Afrikaners karnuffel om gewis weer plesierig te raak. Superhero DonkieOuvrou Rock ondergaan ‘n wafferse make-over ... bring as’t ware hulde aan die getroue, dog halstarrige Vaaltyns wat onontbeerlik op enige plaaswerf ingespan word. Kyk spesiaal uit vir die saamsing met Beeskraal ...

DJ OSSEWA is nie bloot ‘n sanggroep nie – hulle is ‘n fenomenale vermaaklikheidsgroep in die suiwerste vorm van die woord. Hulle progressiewe afrikaanse sokkie opskop musiek word briljant ingekleur met konsertina, trekklavier, banjo en kitaar en uitstekend gekomplimenteer deur hulle uitbundige tong-in-die-kies verhoogkonsternasies. Ossewa-woema is hulle eie, baie persoonlike nismark. INNIE LANG GRAS ritsel behoorlik van ritme wat die luisteraar oorrompel om te sokkie, sakkie, ruk of rol – maar stilsit is nie ‘n opsie nie!

Die manne is geen Vaaljapies nie. Hulle hou miskien treffend makietie, maar getrou aan hulle briljante reputasie, is INNIE LANG GRAS weereens ‘n album wat bewys dat hulle sukses nie ‘n blote meevallertjie is nie. Hulle wenresep om kultuur van toeka tot nou te vermeng plaas hulle op die boonste gestoelte en sorg dat hulle produkte nie lank op die rak sit nie. Ter stawing: Hulle DVD “Heeltemal Lewendig” het reeds in Julie 2008 goue status gekry en verkoop nog steeds sterk. Die manne is op ‘n roll en die wa is deur die drif. Of jy hulle raakloop innie bos, oppie plaas, innie stad of oppie strand – solank DJ OSSEWA se lepel in die pappot staan gaan hulle met mening kóók – en dis sonder enige slang innie lang gras. Met hierdie briljante CD wat beslis hulle beste album tot nog toe is, het hulle bewys dat hulle nie deur die blare is wanneer dit by musiek en vermaak kom nie.Laat die swepe klap! DJ OSSEWA laat ‘n stofstreep soos hulle voortsnel na multiplatinum status.